PLAASmark

Die Windmeul Kelder Plaasmark is ‘n familie-vriendelike kos- en handwerkmark wat elke eerste Saterdag van die maand vanaf 08:00 tot 12:00 by die kelder plaasvind. Die mark bied besoekers ‘n fees van varsgoedere, heerlike deli-lekkernye, sowel as die geleentheid om ‘n kinder-vriendelike uitstappie te geniet terwyl hulle die landelike atmosfeer indrink.

Die mark is rustig en intiem, maar nogtans alombekend en geniet die entoesiastiese aandag van ‘n groep trotse plaaslike aanhangers en kieskeurige reisigers wat keer op keer aandoen. Die inisiatief bied ook ‘n platform waar mense van uiteenlopende agtergronde kan kuier en gesels om sodoende die gees van ons ontluikende gemeenskap te leer ken.

Al ons verskaffers is plaaslik en met sorg uitgesoek vir die passie wat hulle toon vir hul handewerk. Besoekers kan uitsien na alles van olywe, konfyt, varsgebakte brood en tuisgemaakte lekkernye tot botaniese produkte, kruie, skilderye, juwele en nog baie meer. Ons nooi jou om op jou tyd te snuffel en proe – dis die perfekte geleentheid om ‘n piekniek saam te stel en dan ‘n skadukol te vind waar jy ‘n heerlike al fresco middagete kan geniet saam met ‘n kelkie Windmeul Kelders wyn.